’n Goeie leier staan in diens van sy mense

Daar is ’n menslike eienskap wat universeel en tydloos is. Dit is die magsbeheptheid van sommige, m.a.w. die soeke na mag met die doel om beheer oor ander uit te oefen.

Die politieke situasie in Suid-Afrika (en nog duideliker so tydens die inperkingstyd) gee ’n duidelike voorbeeld van hierdie beheersug soos deur die regerende party geopenbaar.

Natuurlik is dit nie net die geval met die ANC nie - wie weet of ’n toekomstige meerderheidsparty minder heerssugtig sal wees? En was heerssug afwesig in die regering vóór 1994?

Dit is natuurlik allermins ’n eksklusiewe Suid-Afrikaanse (of Afrika) verskynsel. Trouens, ek dink die aantal staatsleiers in die wêreld wat hoofsaaklik deur diensbaarheid aan hulle volk gedryf word, is kwalik ’n handvol.

As ’n demokrasie en nie ’n outokrasie nie, is die bedoeling tog ten diepste dat die verkose leiers en amptenare op alle vlakke die voordeel van die mense wat hulle verkies het, sal soek. Dis waarom hulle gepas (in Engels) “public servants” genoem word. Die burgery betaal immers hulle salarisse!

By ons ANC-oorheerste regering word egter op alle vlakke van dienslewering weinig hiervan gevind. Elke mislukking van die regering en elke geval van korrupsie bevestig dat magsug en nie dienswerk nie, die oorsaak hiervan is.

In baie gevalle kan hierdie soeke na mag en magsposisies seker toegeskryf word aan geldgierigheid, want mag en geld loop meestal hand aan hand. Tog was die meeste staatsleiers nie arm toe hulle aan bewind gekom het nie. Geld bring weliswaar mag, maar mag verseker meestal rykdom.

Alhoewel die politieke arena die mees ideale ruimte vir beheersug bied, kom hierdie tendens nie net onder politici voor nie. In elke sektor van die samelewing vind jy die naarstiglike gejaag na magsposisies. Selfs die kerk is nie daarvan gevrywaar nie.

Magsug kom ook in die mees basiese samelewingstruktuur, die huisgesin, voor. Fisiese en emosionele geweld in gesinne is dikwels die simptoom van mense wat mags-obsessief is.

Die oorsake van hierdie tendens is uiteenlopend. By sommige lê daar waarskynlik ’n diep gesetelde minderwaardigheidskompleks en emosionele onvolwassenheid. Mag en ’n gesagsposisie gee hulle dan geleentheid om hiervoor te kompenseer.

Andere word deur oordrewe en misplaaste ambisie gedryf. Vele sien dit as die pad na roem en geld.

Teologies gesproke is magsug een van die oersondes. Baie teoloë verwys o.a. na Jes. 14:12-14 en Eseg. 28:14-17, waar ’n gérub homself gelyk aan God wou stel. Dit was ook die sonde van Adam en Eva wat mislei is om soos God te wil word. (Gen. 3:5)

Hoe radikaal anders is die soort leierskap wat Jesus kom leer en demonstreer het. Hy wat die voete van sy volgelinge gewas het en gesê het: “… elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.” (Mk. 10:43)

(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.