GEESTESSAKE

Dit ontbreek ’n mens aan woorde om die huidige vloedgolf van geslagsgeweld en geweld teen kinders na regte te veroordeel. Die oortreders en hulle dade vervul jou met weersin en die sterkste emosies van afkeer denkbaar.


Natuurlik is dit nie ’n nuwe verskynsel nie. Die geneigdheid tot geweld is sedert die sondeval universeel aanwesig. Gen. 4 vertel dat daar reeds in die eerste gesin ’n geval van geweld en moord was. Geslagsgeweld kom deur die eeue en onder alle volke voor. Die vraag waarmee ek afgelope tyd egter toenemend mee worstel, is waarom die voorkoms daarvan in Suid-Afrika so hoog is?


Ek besef dat daar nie ’n enkel en alleenstaande rede voor is nie. Daar is ’n komplekse kombinasie van geestes-, emosionele-, sosiale- en fisiese faktore tersprake. Verslawende, bedwelmende middels soos alkohol en dwelms speel waarskynlik in die meeste gevalle ’n begeleidende rol.


Terwyl die onderliggende sondige geneigdheid van die mens en die invloed van die bose as die diepste oorsprong erken moet word, kan die oortreder egter nooit van sy/haar persoonlike verantwoordelikheid onthef word nie. Net so kan die blaam ook nie bloot na die gemeenskap en na ander faktore verskuif word nie. Die mens het weliswaar in sy hart die “kiem” van sonde en boosheid en is tot ’n sekere mate die produk van sy omstandighede, maar hy bly ’n morele, verantwoordelike wese.


Wat veroorsaak hierdie wrede, ongebreidelde geweld by ’n sekere persentasie van (veral Suid-Afrikaanse) mans? ’n Bekende akademikus het dit ’n week of wat gelede veral aan die ekonomiese ongelykheid in die land toegeskryf en meen dat die voorkoms van geslagsgeweld veel hoër is onder die armer deel van ons bevolking. Terwyl armoede ’n bydraende faktor kan wees, kan ek dit kwalik as die belangrikste oorsaak beskou. Daar is lande waar die algemene armoede veel groter as by ons is -tog is geslagsgeweld veel laer. Moraliteit en waardes kan ook nie aan mense se finansiële toestand gekoppel word nie.

Die hoofrede vir hierdie verskynsel in Suid-Afrika (en ook in ander lande) moet myns insiens gesoek word in die verlies van geestelike en tradisionele waardes. Daar is ’n vernietigende erosie van geestelike en morele waardes wat ons samelewing veral oor die laaste paar dekades ondermyn. Met al ons humanisme en liberalisme het vele tradisionele, Bybelse waardes in die slag gebly.


Ons is besig om die prys te betaal vir die ondermyning van tradisionele en Bybelse gesins- en familiewaardes. Die meeste geslagsgeweldenaars kom uit gebroke, disfunksionele gesinne. Hulle ken geen vader wat volgens Bybelse voorskrifte hulle vroue moet liefhê soos Christus sy gemeente liefhet en wat in Petrus se woorde aan hulle vroue eer moet bewys nie. Trouens, in baie gevalle wás daar geen vader, geen positiewe rolmodel nie.

Die waarskynlike is dat hulle die Hemelse Vader nie ken nie.

(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.