Geestelike leiers moet standpunt inneem

Die mislukking van die Suid-Afrikaanse regering op alle vlakke word daagliks duideliker. Die Corona-pandemie het die regerende party finaal as ’n sinistere grap en verleentheid en sonder enige skaamte of integriteit ontbloot. Het daar nog enige regeringsfunksie oorgebly wat suksesvol (en sonder korrupsie) vervul word?

Die feit dat byna ’n derde van die land se bevolking afhanklik is van staatstoelaes en daar ’n oorgroot staatsdiens met oorbetaalde staatsamptenare is, bring egter mee dat die regerende party steeds oor die meerderheidstem beskik.

Daarom kom die (beskaafde) protesstem teen korrupsie en wanbestuur hoofsaaklik van diegene wat gedwing word om hierdie korrupte regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak deur belastings aan die gang te hou.

Die assosiasie van die ANC met politieke bevryding en die versoenende rol van Nelson Mandela is haas vergete. Dink vandag ANC, en jy assosieer dit met korrupsie, wanbestuur, onbevoegdheid en magsmisbruik!

Die karakterloosheid van diegene wat skuldig is aan korrupsie, het die afgelope paar maande ’n nuwe morele laagtepunt bereik deurdat geld wat vir die armes bedoel is, in die sakke van kaders verdwyn.

Weliswaar het mnr. Ramaphosa die afgelope tyd sterk standpunt teen korrupsie ingeneem, maar “praat” en “doen” lê dikwels ver uit mekaar.

Dit lyk ongelukkig of die regering hoofsaaklik ag gee op manipulerende militantes wat die regte van ander vertrap maar self weinig konstruktiefs bydra tot die opbou van die land.

Teen hierdie agtergrond worstel ek die afgelope paar maande toenemend as Christen-landsburger met die vraag: Wat kan ek en ander wetsgehoorsame burgers wat lief is vir hierdie land doen om hierdie vernietigingstog van die regerende party te stuit?

Natuurlik kán en móét gelowiges aanhou om ernstig tot God te bid vir ’n op(ver)lossing. Gelukkig het Hy nie ons raad en advies vir ’n oplossing nodig nie.

Ons moet ook let op ons eie lewens en ons nie self aan korrupsie op enige wyse skuldig maak nie. Ons het ook die verantwoordelikheid om almal fluitjieblasers te wees en enige oneerlikheid aan die toepaslike owerhede (en openbaar) bekend te maak.

Ek is dankbaar vir burgerlike organisasies wat reeds soveel doen om korrupsie, geweld en onreg in ons land te striem.

Tog wonder ek watter rol die leiers van die Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskap kan speel as hulle gesamentlik hulle voet neersit en sê: “So ver en nie verder nie!” Daar is immers geestelike leiers wat ’n groot invloed het op letterlik miljoene lidmate.

Dit was met verligting dat ek die afgelope naweek kennis geneem het van ’n duidelike standpunt deur die SARK en dat hulle wil handevat met ander burgerlike organisasies.

Godsdiensleiers kán mos nie in ’n tyd van soveel politieke boosheid en korrupsie anders as om ‘n sterk en duidelik standpunt hierteen in te neem nie?

(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.