Dit was ook 'n jaar om jou seëninge te tel

Terwyl niemand die onmeetlike, negatiewe globale en persoonlike gevolge van die Covid-pandemie ontken nie, het ek die afgelope tyd soveel mense teëgekom vir wie daar sover ook goeie en mooi dinge hieruit voortgekom het. God gee immers sieraad vir as.

Dink aan daardie eerste paar weke van die inperking - die rus en vrede en die afwesigheid van geraasbesoedeling. Ander vertel van ’n terugkeer na basiese gesinswaardes wat in ons materialisties-gedrewe wêreld in die slag gebly het.

Ons het agtergekom dat ’n mens met veel minder kan klaarkom. Daar is mos sekere dinge wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar en eers regtig waardeer as dit van jou weggeneem is.

Ons eie uitgebreide gesin het verlede week een aand bymekaar gekom vir ons eie “Thanksgiving”-aand. Die dankbaarheid was groter as enige swaarkry. Terwyl die jaar meer as sy gewone kwota uitdagings gehad het, kan ons as familie getuig dat die profesie van die profeet Elia aan die weduwee van Sarfat tydens ’n groot hongersnood en droogte in 1 Kon. 17:16, ook vir ons waar geword het: “Die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie.”

Ek het oor hierdie afgelope jaar ook probeer om my vinger op die pols van die kerk te hou. Ja, ook vir die kerk het hierdie eenmaal-in-’n-leeftyd-pandemie vele implikasies ingehou.

Ek is oortuig dat die kerk in sy vele gestaltes en met al sy gebreke in hierdie jaar sy (of is dit haar?) veerkragtigheid getoon het. As ek sien hoe negatief feitlik elke ander segment van die samelewing (die kunste, sport, ens.) deur die pandemie geaffekteer is, is ek van mening dat die Kerk van Christus wesenlik veel minder daardeur geraak is.

Weliswaar was en is daar ’n inperking van getalle by byeenkomste. Dit het feitlik elke gemeente genoop om hulle lidmate en die wyer gemeenskap deur middel van die sosiale media te bedien. Alhoewel daar minder mense in die kerkgeboue kan saamkom en dit tyd sal neem om na normaal terug te keer, hoor ek van byna elke pastoor en dominee dat hulle nou weekliks meer mense bereik as ooit vantevore. Hierdie groter teenwoordigheid op die sosiale media het gekom om te bly.

Daar is talle gemeentes wat finansieel in moeilike vaarwaters beland het. Tog hoor ek dit gereeld dat gemeentes se inkomste verbasend stabiel gebly het en in sommige gevalle selfs gestyg het.

Eweneens is daar talle plaaslike kerke wat tenspyte van getalle-beperking gegroei het. En die meeste gemeentes het sonder om hulle eie beuel te blaas, soveel mense in nood en krisis gehelp.

Nee, die kerk van Jesus Christus is nie sterwend nie! Hy het immers belowe Hy bou Sy kerk en selfs die poorte van die doderyk sal dit oorweldig nie!

(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.