Beeldartikel - ’n ‘Luiheid’ én oplewing word in kerke gesien - 03 Nov 2021


Die Kerk is nie die effek van die Covid-pandemie gespaar nie. Wie sou vóór die pandemie kon dink dat kerkbyeenkomste globaal verbied sou word of tenminste tot ’n paar dosyn mense beperk word?

Eerstens het feitlik alle gemeentes lidmate weens Covid aan die dood afgestaan en baie was ernstig siek. Dit het ekstra emosionele en geestelike druk op pastore en dominees geplaas.


Wat erediens-bywoning betref - gegewe die beperking wat tans 750 mense per diens is - is daar sekere tendense wat duidelik navore kom. Dit is ’n bietjie anders as wat ek kort na die aanvang van die pandemie verwag het.

Destyds het ek gedink dat lidmate ná die pandemie in groot getalle sou terugstroom om weer die eredienste by te woon. Alhoewel daar uitsonderings is, blyk dit egter nie die algemene tendens te wees nie.

Terwyl daar sekerlik nog diegene is wat huiwer en besorg is oor die moontlikheid van infeksie, blyk dit dat daar by baie gemeentes ’n traagheid by sommige is en dat party lidmate glad nie haastig is om terug te kom kerk toe nie. Miskien is dit ’n soort kerk-toe-gaan-“luiheid” wat ingetree het.


Dis nie moeilik om te verstaan nie. Vir maande lank was gemeentes genoodsaak om dienste en geestelike boodskappe deur middel van sosiale media aan lidmate oor te dra. Weliswaar is baie meer mense op hierdie wyse bereik en verdien baie gemeentes ’n pluimpie vir die wyse waarop daar innoverend van die sosiale media gebruik gemaak is om die uitdagings wat Covid meegebring het, te oorkom.


’n Gevolg daarvan was onder andere dat dit vir baie mense gemakliker geword het om sommer tuis en op enige gepaste tyd op hulle selfone daarna te kyk of luister.

Dit beteken sekerlik nie dat mense se behoefte aan God afgeneem het nie. Die aanduiding is eerder dat die Covid-pandemie baie mense anders oor geloof en hulle afhanklikheid van God laat dink het.

Op hierdie stadium lyk dit of dit in die meeste plaaslike kerke ’n onbepaalde tyd gaan neem om in hierdie verband weer na “normaal” terug te keer.


Daar is egter ’n ander baie belangrike tendens en ek het dit oral by geestelike leiers verneem. Dit is dat daar huidiglik talle nuwe mense is wat kerkdienste bywoon, mense wat nie vroeër aan ’n kerk behoort het of kerkdienste bygewoon het nie. Hulle neem as’t ware die plek in van die lidmate wat om welke rede traag is om terug te kom. Dit geskied tot so ’n mate dat daar selfs van ’n “oplewing” in sommige gemeentes gepraat kan word.

Terwyl sosiale media ’n veel belangriker rol as in die verlede speel, kan dit nooit die persoonlike, fisiese bymekaarkom - of te wel “die gemeenskap van die gelowiges” - vervang nie.

(Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.)

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.