Beeldartikel - Baie dankie aan die Samaritane onder die radar - 29 Des 2021

Hier, teen die einde van die jaar, probeer ek hard om aan die positiewe dinge te dink waarmee ’n mens hoopvol die nuwe jaar tegemoet kan gaan.

Ja, daar is sekerlik baie om opreg voor dankbaar te wees - o.a. as jy steeds ’n leefbare inkomste en goeie gesondheid geniet.

Ek moet egter eerlik wees dat ek, gegewe die huidige toestand van ons land en onder die huidige regeringsbewind, mooi moet dink oor dinge om positief oor te wees.

Die ineenstorting van staatsinstellings en infrastruktuur onder ’n magsbehepte, korrupte, onbekwame, mislukte regering, oorheers feitlik elke nuusbron en gesprek. Om nie eens te praat van die werkloosheid, wetteloosheid, onbeheersde misdaad en geweld nie.

Tydens die afgelope Kersfees het die verhaal wat Jesus vertel het oor die Barmhartige Samaritaan egter opnuut tot my gespreek - dié man se welwillendheid, omgee en sorg vir iemand wat aangerand en erg verwond langs die pad gelê het.

Jesus het hierdie verhaal vertel in antwoord op die vraag van ’n wetsgeleerde oor wié sy naaste is? Jesus het egter die vraag omgedraai van “wie is my naaste?” na “wie se naaste is ek?” Die verwonde persoon langs die pad was nie die naaste nie, maar wel die Samaritaan wat hom ontferm het. Hy was die naaste van die arme man.

Kersfees was, en sal altyd ’n tyd van welwillendheid bly. Dis ’n tyd waar daar meer naasteliefde deur indiwidue en instansies betoon word as op enige ander tyd van die jaar. Dit vind natuurlik sy oorsprong by die Groot Gawe wat God aan die mens gegee het.

Die verhaal van die Barmhartige Samaritaan het my laat besin oor watter positiewe dinge die afgelope jaar wel vir my uitgestaan het - temidde van al die negatiewe.

Dit is die menslikheid, welwillendheid, sorg en omgee wat die afgelope jaar aan mense in nood bewys is. Hier dink ek onder andere aan liefdadigheids-organisasies soos Gift of the givers, wat op soveel plekke en aan soveel mense in krisis die ondersteuning gegee het wat eintlik deur ’n ordentlike regering gedoen moes word.

Ek dink ook aan besighede, humanitêre instansies en welwillende indiwidue wat op velerlei wyses bydraes gemaak het om mense in nood te help.

Ek dink egter veral aan plaaslike kerke se onbesonge rol in die verband. Orals waar ek die afgelope jaar in gemeentes van verskillende denominasies gekom het, het ek verneem van die hulp en bystand wat aan indiwidue en gemeenskappe verleen word. Selfs arm gemeentes wat finasieël swaar deur die Covid-pandemie getref is, is betrokke by die nood in hulle gemeenskappe.

Hierdie eietydse Samaritane werk meestal ónder die radar en dit word nie aan die groot “nuusklok” gehang nie. Dankie daarvoor!

Mag jy en ek in 2022 ook ’n “naaste” vir andere wees en deel word van God se Samaritane.

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.