DOKTER AANGEKLA OMDAT HY VROU AFRAAI OM ABORSIE TE ONDERGAAN

Ons land is op ’n ekonomiese vernietigings-spiraal weens ’n regerende party wat tot in sy wese korrup en verrot is. Ongelukkig is daar ’n korrupsie wat waarskynlik nog erger is - die geestelike en morele korrupsie wat onder die vaandel van humanisme, menseregte en politieke korrektheid al sterker navore kom. Dit word onder andere duidelik deur die klag van “onprofessionele gedrag” wat die Raad op Gesondheidsberoepe (van alle instansies!) gelê het teen dr. Jacques de Vos omdat hy ’n dame afgeraai het om weens moontlike gesondheidsrisiko’s ’n aborsie te ondergaan. Hierdie klag is só absurd dat woorde my ontbreek om my afkeer daarteen uit te spreek. Die teenkanting teen ongekwalifiseerde aborsies sal nie ophou solank daar mense is wat tot eer van God en volgens Sy wil lewe nie - omdat aborsies ’n vergrype is aan dít wat uitsluitlik aan God behoort - naamlik LEWE! Daar is wel gevalle waar geldige mediese faktore tersprake is, maar om oorbevolking en armoede as verskoning en regverdiging vir aborsie te gebruik, is roekeloos en spreek van morele en geestelike bankrotskap. Watter regverdiging is daar dat iemand vóór geboorte doodgemaak kan word, maar dat dit ná geboorte moord is? Reeds op 18 dae swangerskap is daar by die fetus die eerste aanduiding van ’n eie, onafhanklike hartklop; op 42 dae die eerste breingolwe en op 8 weke funksioneer al die organe reeds. Op 9 weke het ongebore babas hul eie, unieke vingerafdrukke. Op 10 weke kan hulle al pyn en ongemak belewe, en op 12 weke reeds glimlag! Sedert 1 Februarie 1997 is reeds meer as 1.7 miljoen ongebore lewens in SA vernietig in die plek wat veronderstel is om die heel veiligste plek vir hulle te wees - die baarmoeders van hulle moeders. Dis veel meer as al die mense wat gedurende hierdie tydperk in SA dood is in motorongelukke en misdaad tesame. 44 miljoen aborsies is wêreldwyd in 2018 uitgevoer. Vroeër vanjaar het ’n man drie jaar tronkstraf in Engeland gekry nadat hy met roofvoëleiers op Heathrow lughawe vasgetrek is. ’n Voël se embrio ontwikkel in ’n eier buite die voël self. In Suid-Afrika betaal belastingbetalers vir die wettige vernietiging van gemiddeld 73,000 lewens per jaar wat binne-in vroue ontwikkel! Natuurlik het elke vrou die vryheid van keuse wat sy met haar eie liggaam wil doen. Dis ook meestal haar keuse of sy in riskante seksuele aktiwiteite betrokke wil raak. ’n Embrio, ’n fetus, ’n ongebore baba, is egter nie ’n vrou se liggaam nie! Dis ’n nuwe skepseltjie met ’n onafhanklike identiteit, selfs ’n ander bloedgroep, ’n gawe van God - nie ’n ongewenste gewas of vergroeisel wat op aanvraag verwyder kan word nie! Om te dink dat ’n jong dokter wat ’n vrou afgeraai het om ’n aborsie te laat doen, geskors is en weer op 3 en 4 Oktober op ’n klag van “onetiese gedrag” tereg moet staan! Gesondheidspraktisyns wat geldige etiese probleme met aborsies het, word al meer, ook in Suid-Afrika geviktimiseer. Wat ’n skandvlek op die Raad op Gesondheidsberoepe! Onthou maar die woorde in Jes. 26:21: "Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie."


Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.