ABORSIE

Bietjie meer as ’n jaar gelede het my vrou en ek die grootouers geword van ons eerste twee kleinkinders - ses weke uitmekaar.

Die reis met hulle, letterlik van konsepsie tot waar die tweetjies nou al orals ronddraf, was amper meer merkwaardig as met ons eie kinders.

Ons het onder andere die video gesien van die oomblik toe die invitro-bevrugte embriotjie in ons dogter geplant is en homself aan die baarmoederwand geheg het.

Ons dogters het ons met die verloop van hulle swangerskappe weekliks - o.a. deur sonarfoto’s - op hoogte gehou van die wonderwerk wat besig was om in hulle te ontwikkel. Psalm 139:13 het vir my só ’n werklikheid geword: “U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm.”

Op 18 dae swangerskap was daar die eerste aanduiding van ’n eie, onafhanklike hartklop; op 42 dae die eerste breingolwe en op 8 weke het al die organe gefunksioneer; op 9 weke het hulle hul eie, unieke vingerafdrukke gehad. Blykbaar kon hulle op 10 weke reeds pyn en ongemak belewe, en op 12 weke reeds glimlag!

Hierdie grootse Godswonder het my opnuut weer die afgelope tyd oor die kwessie van aborsie laat wroeg.

Ek was nog altyd met my hele wese gekant teen ongekwalifiseerde aborsies op aanvraag. In die negentigs met die sittings van die parlementêre kommissie oor die wettiging van aborsie, het ek 55,000 indiwiduele, skriftelike besware aan die kommissie in Kaapstad oorhandig. Dit was egter duidelik dat hulle reeds besluit het ten gunste van die wettiging van aborsie.

Eerskomende Sondag is dit “Sanctity of Human Life Sunday”. Dis 22 jaar sedert aborsies op 1 Februarie 1997 in Suid-Afrika gewettig is. Sedertdien is meer as 1.6 miljoen ongebore lewens vernietig in wat veronderstel is die heel veiligste plek vir hulle te wees - die baarmoeders van hulle moeders. Dis veel meer as al die mense wat gedurende hierdie tydperk in SA dood is in motorongelukke en misdaad tesame. 44 miljoen aborsies is wêreldwyd in 2018 uitgevoer.

Dit bly myns insiens die grootste misdaad van ons tyd en sonde voor God - ongeag of dit grondwetlik en polities korrek is.

Twee weke gelede het ’n man drie jaar tronkstraf in Engeland gekry nadat hy vroeër met roofvoëleiers op Heathrow lughawe vasgetrek is. ’n Voël se embrio ontwikkel in ’n eier buite die voël self. In Suid-Afrika betaal belastingbetalers vir die wettige vernietiging van gemiddeld 73,000 lewens per jaar wat binne-in vroue ontwikkel!

Natuurlik het elke vrou die vryheid van keuse wat sy met haar eie liggaam wil doen. ’n Embrio, ’n fetus, ’n ongebore baba, is egter nie ’n vrou se liggaam nie! Dis ’n nuwe skepseltjie met ’n onafhanklike identiteit, selfs ’n ander bloedgroep, ’n gawe van God - nie ’n ongewenste gewas of vergroeisel nie!


Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.

ONDERSTEUN MY UITGEWERS:

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA

SOSIALE MEDIA:

© 2015 by Isak Burger. All rights reserved.