Sendingveld is deesdae soveel nader

Die verspreiding van die wêreld se bevolking verander teen ’n ongewone tempo. Oor die eeue het verskillende “volksverhuisings” plaasgevind. Soms was dit weens natuurrampe of uiterste weer. Waarskynlik was dit meer dikwels weens mensgemaakte rampe, soos oorloë en erge verdrukkings.


’n Substansiële deel van immigrante wat die eerste keer ná die ontdekking van Amerika daarheen verhuis het, was evangeliese Christene wat weens vervolging in Europa en veral Engeland na die “Nuwe Wêreld” padgegee het. Eweneens was die Franse Hugenote wat in die laat 17de eeu van Frankryk na Suid-Afrika gevlug het die slagoffers van erge godsdienstige vervolging deur die Roomse Kerk.


Die afgelope dekade of twee vind daar toenemend onverdraagsaamheid en radikalisering

in vele Moslemlande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste plaas. In sekere gevalle kan dit regstreeks verbind word met die Amerikaans geleide invalle in lande soos Irak en Libië om van wrede diktators ontslae te raak. Ironies genoeg was daar soms onder hierdie diktators groter vryheid en beskerming van Christen-minderhede!


Die laaste paar jaar was die uitwissing en gedwonge migrasie van Christene uit vele Midde-Oosterse lande opmerklik en skokkend. Selfs in die Palestyns beheerde Wesoewer-gebiede het die bevolking van stede soos Betlehem en Nasaret die afgelope 20 jaar van Christenmeerderhede in Christenminderhede verander.


Dit is ’n groot besluit om jou vaderland te verlaat. Van nature is ’n mens geheg aan jou geboorteland en bereid om heelwat te verduur voordat jy die radikale stap doen om dit te verlaat. Omstandighede, veral die toekoms, moet baie duister lyk en die gras anderkant die draad baie groener voordat iemand sy/haar wortels uittrek. Vele Suid-Afrikaners het die laaste jare daardie punt bereik.


Aan die ander kant het méér mense weer uit lande wat slegter daaraan toe is in hul soeke na ’n beter lewe na Suid-Afrika gekom. Daar is egter nou ’n internasionale verskuiwing van mense wat enige vorige volksverhuising van die geskiedenis verdwerg. Hierdie keer is dit Wes-Europa en ander Eerstewêreldlande wat hiermee te make het. Honderdduisende mense – veral Moslems van die Midde-Ooste en Noord-Afrika – stroom tans daarheen. Oor watter langtermyn-implikasies dit vir ons wêreld gaan hê, kan mens net bespiegel, maar dat dit verreikende gevolge gaan hê, is onafwendbaar. Daar is ernstige potensiële implikasies: so­siaal, polities, ekonomies – en ook godsdienstig.


Vir die Christelike geloof is daar egter ook die ontsaglike geleentheid om vroeër onbereikte mense van gebiede wat vyandig is teenoor die Christelike evangelie in gunstiger omstandighede met die lewensveranderende evangelie van Jesus Christus te bereik – deur lewe, woord en daad, op die markplein, naby ons, om ons.


Dit is nie net meer die taak van “sendelinge” wat uitgestuur word om die boodskap van God se redding, liefde en genade aan hulle daar ver uit te dra nie. Elke volgeling van Christus is geroep as getuie hiervan.


Die vraag is, is die kerk in Europa (en in Suid-Afrika) gereed daarvoor?


http://www.netwerk24.com/stemme/menings/2015-10-07-isak-burger-sendingveld-is-deesdae-soveel-nader


Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.