Skynheilig van staat om kerke te bekyk



Luidens ’n berig in Rapport gaan alle kerke ondersoek word om te kyk of hulle gelowiges uitbuit met onder meer geldsake en die aansprake wat hulle maak.


Natuurlik is kerke nie verhewe of vrygestel van goeie orde en bestuur, reg, billikheid en eerlikheid nie. Elke erkende kerk sal jou sê dat dit vir hulle ’n prioriteit is – juis omdat die Christelike kerk (en ander godsdienste sekerlik ook) die vertroue van die meerderheid burgers van die land geniet en geskoei is op beginsels van eerbaarheid, deursigtigheid en integriteit.


Natuurlik is die kerk nie van die teenwoordigheid en aktiwiteite van opportuniste en oneerlikes gespaar nie. Gevestigde kerke met ’n lang en betroubare geskiedenis het ten minste as ’n reël duidelike dissiplinêre kodes en riglyne.


Daar is ook vele onafhanklike kerke. Ook dáár sal jy as ’n reël goeie orde en waardes teëkom. Ongelukkig is daar ook groepe wat ontstaan het rondom ’n “pastoor/biskop/profeet/apostel” wat juis van ’n erkende kerk weggebreek het weens finansiële of ander ongerymdhede en wat weier om verantwoordbaar te wees. Hulle skroom dan dikwels ook nie om naïewe en goedgelowige lidmate uit te buit nie.


Daar is ook ongewone geestespraktyke wat hul oorsprong buite die Bybel het en steeds aangehang word, wat bydra tot geïsoleerde en onaanvaarbare godsdienstige praktyke.


Dat daar soms bedenklike praktyke en selfs swendelary aan die gang is, kan nie ontken word nie. Verwerplik soos dit is, is dit egter nie iets nuuts nie. Dit het deur die eeue voorgekom. Paulus moes selfs in sy briewe waarsku teen sommige wat hulle reeds in sy tyd aan hierdie soort dinge skuldig gemaak het.


Of dit die staat se taak is om hierdie soort ondersoeke te doen en te reguleer, is ernstig te bevraagteken. Luidens bogenoemde berig sou Edward Mafadza, waarnemende hoof van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte (KGT-kommissie), gesê het “dat as hy sy sin kry, sal geloofspraktyke deur wetgewing gereguleer word” en is dit sy visie dat daar “een geloofsformasie” is wat verantwoordbaarheid vir alle gelowe verseker.


Wat bedoel Mafadza as hy oor “regulering” en “een geloofsformasie” praat? “Geloof” en “praktyk” kan nie van mekaar geskei word nie. As ek nie praktiseer wat ek glo nie, is my geloof niksseggend. Boonop verskil praktyke van die godsdienste radikaal en selfs binne die Christelike kerk word geloof op verskillende maniere in praktyk gebring.


In sekere Wes-Europese en Skandinawiese lande word die salaris van staatskerke se leraars steeds deur die (sekulêre) regering betaal. As daar in sodanige geval voorskriftelik deur die regering opgetree sou word, kan dit dalk nog verstaan word. Sou die Suid-Afrikaanse regering met sodanige regulering ook gewillig wees om kerklike ampsdraers se salarisse te betaal?


Dit het die afgelope jaar duidelik geword dat die kerke in Suid-Afrika – en by name die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke – al hoe minder bereid is om die regering ten dienste te wees. Sou die feit dat die grootste deel van die kerk in Suid-Afrika nie meer die regering ter wille is nie en sy stem al hoe meer teen die regering verhef dalk ’n onderliggende rede wees waarom die visier nou op die kerk gerig word?


As ’n regering wat agting verdien het weens goeie bestuur en in sy eie geledere nie korrupsie duld nie sulke stappe teen korruptes in godsdienstige kringe oorweeg, was daar dalk ’n saak voor uit te maak. Om egter in die lig van Nkandla en ’n donker skaduwee van bedrog en korrupsie sulke stappe te oorweeg teen die instelling waarvan die betroubaarheid (saam met dié van die openbare beskermer) as die hoogste in meningspeilings geag word, is skynheilig en vermetel.



Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.