Christene moet ’n verskil maak

Daar is soveel dinge wat wetsgehoorsame, belastingbetalende burgers in Suid-Afrika vertoorn en frustreer.


Elke dag is daar nuwe gevalle van korrupsie, ’n onvermoë om doeltreffend te regeer, patetiese dienslewering, beurtkrag, stakings, geweld, misdaad, leë beloftes, leuens, diskriminasie, barbaarsheid, wrede plaasmoorde, xenofobie, en so hou dit aan, dag ná dag. Nuusberig ná nuusberig; koerant ná koerant, dit lyk al hoe meer na ’n onkeerbare spiraal van ’n land se vernietiging. ’n Tweede Zimbabwe.


Hoe is dit met die mense van hierdie vasteland, van hierdie land? Hoe kan die meerderheid kiesers tevrede wees met so ’n toedrag van sake? Is dit omdat hulle hoofsaaklik kom uit die 30% van die bevolking wat staatstoelaes ontvang eerder as die minder as 9% wat wel persoonlike belasting betaal?


Selfs diegene wat nog heeltyd positief probeer bly het, begin moed verloor. Al hoe meer mense is openlik oor die wenslikheid van emigrasie. Ek hoor dit in gesprekke met verskillende mense, veral jong mense.


’n Vraag wat gereeld gevra word, is: Wat doen die kerk? Ook ek worstel al hoe meer daarmee. Wat kan en behoort die kerk in ’n tyd soos hierdie te doen?


Sommige reken die negatiewe spiraal sal gestuit word as die kerk meer en harder praat. Hulle wil verklarings deur kerkleiers in koerante sien. En Ou-Testamentiese profete, soos Natan, wat koning Dawid sonder vrees konfronteer met “U is die man!”. Mense soos Johannes die Doper, wat die president en sy kabinet trompop kan loop en hulle in die naam van die Here bestraf oor hul sonde.


Ek wens dit kon vandag so werk. Maar selfs ons internasionaal gere­spekteerde en onverskrokke emeritus-aartsbiskop se verset en skerp uitsprake val blykbaar op dowe ore.


Ons leef in ’n postmoderne wêreld met ’n humanistiese Grondwet en ’n president wat blykbaar sy eie “hofprofete” aangestel het wat sê wat hy wil hoor.


Baie mense is nie bewus hoe gefrustreerd kerkleiers en ekumeniese liggame is nie. Tydens ontmoetings en gesprekke versoek die president en sy ministers die kerk telkens om hulle aan te spreek wanneer dit nodig is. Hulle sien ook die kerk as ’n handige vennoot – veral wanneer dit partypolitieke voordeel inhou. Wanneer die kerk sy profetiese rol probeer vervul, word hy meestal geïgnoreer.


Ek betrap myself dat ek partykeer met ’n gevoel van magteloosheid worstel.


Toe onthou ek – Dawid het ook een keer iets soortgelyks gevoel: “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” (Psalm 11:3)


Natuurlik moet kerkleiers en kerklike vergaderings hul stem laat hoor. Ja, die “Kerk móét iets doen!”.


Maar wie is nou eintlik die Kerk? Dit word vir my al hoe duideliker dat die kerk se funksie om volgens Jesus se woorde “sout van die aarde” en “lig vir die wêreld” te wees, deur die eintlike kerk – die individuele Christen-gelowiges – vervul moet word.


Dís waar die ware transformerende aksie moet begin gebeur: Individuele gelowiges wat eg en eerlik, in liefde en met krag, en in alle situasies die voorbeeld en waardes van die Een Wie se Naam hulle dra, uitleef. Christene wat sélf integriteit openbaar, wie se werketiek soos dié van Josef en Daniël ’n verskil maak – selfs in ’n negatiewe konteks. Christene wat sélf die wette van die land gehoorsaam.


Sal die ware volgelinge van Christus in die wêreld van die politiek, ekonomie, kunste, opvoeding, wetenskap, kommunikasie en sport opstaan en ’n verskil maak? Asseblief!


En dan veral, kán en móét ons aanhou tot God bid – individueel en gesamentlik. Die dag wanneer ons as Christene opgee om te bid en nie meer glo dat die Here die gang van ’n volk kan verander nie, is daar regtig nie veel hoop meer oor nie.


Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.

ONDERSTEUN MY UITGEWERS:

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA

SOSIALE MEDIA:

© 2015 by Isak Burger. All rights reserved.