Ramp waarvan min kennis dra

Die afgelope week of twee het 'n paar tragedies die nuusmedia oor en oor besoek.

Daar is die oorlog in Gaza met wankelende skietstakings. Die emosies hieroor loop hoog en daar is sterk verskil van opinie oor wie ten diepste te blameer is. Groot optogte en saamtrekke deur pro-Palestynse sowel as pro-Israelse ondersteuners is gehou.

Dan is daar die voortslepende wrede geweld in ons land, van kleuters tot boere wat geskiet, gesleep, gebrand en gemartel word.

Daar was ook die slotbetoë in die tragiese skiet-dood van Reeva Steenkamp.

Daar is egter 'n ander ramp, 'n reuse tragedie, wat besig in om af te speel, waarvan die wêreld oënskynlik weinig kennis neem en in elk geval met 'n onverstaanbare stilte begroet word. Dit is die toenemende vervolging, verdrywing en moord op tienduisende Christene in Afrika en veral in die Midde-Ooste - hoofsaaklik deur Moslem ekstremiste.

Die getal Christene wat weens hulle geloof sterf, is waarskynlik tans die hoogste in die geskiedenis van die Christendom - selfs meer as in vroeë dae van vervolging deur die Romeinse Ryk.

Dink aan sommige van hierdie gevalle: In Egipte was Christene tot onlangs 'n weerlose teiken tydens die politieke geweld en veranderinge. In Nigerië word kerkgeboue verwoes en dosyne Christene weekliks doodgemaak en ontvoer. So ook in Suid-Soedan. Selfs Kenia begin nou 'n teiken word.

In die Midde-Ooste is die vervolging en lyding van die Christen-minderhede haas ondenkbaar. Met die uitsondering van Israel, is daar weinig Moslem-oorheersde lande waar Christene ongestoord hulle geloof kan beoefen. In Sirië is daar oor die laaste jaar of twee bykans 200 000 mense in die geweld dood. 'n Substansiële deel daarvan is Christene, juis omdat hulle nie deel van die "rewolusie" wil wees nie.

Huidiglik vind die ergste vervolging in Irak plaas. Terwyl ander minderhede ook vervolg en gedood word, is dit veral Christene wat in die afgelope paar weke geteiken word deur militante Moslem ekstremiste.

Lank vóór die ontstaan van Islam, was daar reeds 'n sterk Christengemeenskap in Irak. Selfs onder die outokratiese bewind van Saddam Hussein het die ongeveer 1.3 miljoen Christene relatiewe vrede en veiligheid geniet en in vrede met hulle Moslem bure geleef.

In Irak, soos in vele ander lande in die Midde-Ooste, is Christene egter as tweede-klas burgers beskou. Alhoewel hulle nie hulle identiteit hoef prys te gegee het nie, het hulle nie gelyke regte geniet nie.

Toe die groot stad, Mosul, onlangs deur militante ekstremiste van die Islamic State (IS) ingeneem is, moes alle Christene (60 000) vlug terwyl groot getalle doodgemaak is. Talle van hulle het na die dorp, Qaraqosh met sy 50 000 Christene, gevlug. Hierdie dorp is egter verlede Woensdagnag deur die ekstremiste ingeneem. Die Christene, saam met tienduisende burgerlikes van ander minderheidsgroepe, het na 'n berg buite Qaraqosh gevlug waar hulle sedertdien sonder water en kos deur Sunni militantes vasgekeer word. Talle - waaronder vele kinders - is volgens berigte reeds doodgemaak of het weens ontbering omgekom.

Kerkgeboue word vernietig, simboliese kruise afgeruk, Bybels vernietig en Christene word voor die keuse gestel: Bekeer tot Islam of sterf!

In Kaapstad het daar die afgelope Saterdag tienduisende mense teen Israel betoog weens sy optrede teen die terroristegroep, Hamas. Ook Christene het saam met Moslems opgetrek in 'n anti-Israelse demonstrasie.

Wêreldwyd, soos ook in Suid-Afrika, is daar egter 'n doodse stilte oor wat in o.a, Sirië en Irak met Christene gebeur.

Ek wonder of hierdie Christene en hulle leiers (en Moslems) nie ook van hulle wil laat hoor oor die ergste vervolging van Christene in die geskiedenis nie?

Hoor die eggo van die woorde van God aan Kaïn in Gen.4:10: "Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My."


Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.