Die geestelike toestand van ons nasie

Daar was 'n tyd in die geskiedenis van Israel toe die volk geestelik 'n allerlaagte punt bereik het. So treurig het dit gegaan dat die profeet Elia gedink het dat hy alleen oorgebly het. Die Here het hom egter verseker dat daar nog 'n paar duisend regverdiges oorgebly het wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie.

Soos Elia kan mens maklik in wanhoop en negatiwiteit verval deur te veralgemeen en die persepsie te hê dat dit nét sleg gaan - ook wat die geestelike toestand van ons nasie betref. Dit is belangrik dat mens perspektief sal behou en nie in wanhoop verval nie.

'n Basiese verskil tussen antieke Israel en Suid-Afrika is dat die Israel van die Ou Verbond/Testament as geheel "Volk van die Here" was. Hulle was 'n teokrasie (deur God regeer) en hulle geestelike leiers was vir lank ook die politieke leiers - soos in sommige Moslemlande vandag. Daar was dus nie 'n onderskeid tussen die "kerk" en die "staat" nie. Die sosiale struktuur en kultuur van die dag het ook meegebring dat dit geestelik met die volk goed gegaan het wanneer daar 'n goeie Godvresende koning was - en andersom. Daarom was dit moontlik en redelik maklik om 'n oordeel te fel oor die "geestelike toestand van die nasie".

Suid-Afrika bied 'n totaal ander scenario. Ons het 'n humanisties-sekulêre grondwet en kerk en staat is twee onderskeibare en aparte entiteite.

Terwyl ons grondwet aan die een kant godsdiensvryheid vir almal belowe, bestaan die moontlikheid egter wel dat daar konflik tussen kerk en staat kan ontstaan, omdat 'n sekulêr-humanistiese grondwet soos ons s'n nie die Bybel as die hoogste maatstaf en riglyn van wat reg en verkeerd is, beskou nie.

Tenspyte van die feit dat die oorgrote meerderheid burgers van ons land nominele Christene is, is alle ander godsdiensgroepe gelykberegtig. Daarbenewens is daar ook 'n groeiende groep agnostici, ateïste asook talle "nie-geaffilieerdes" - dit is mense wat hulle nie meer as lid van enige spesifieke godsdiensgroep beskou nie, alhoewel hulle hulleself steeds as "spiritueel" en nie as ateïsties beskou nie. Tot 'n sekere mate sou mens hulle as "New Age/Nuwe Era" mense kon beskou.

Wanneer 'n mens dan oor die "geestelike toestand van ons nasie" sou praat, moet jy duidelik onderskei tussen "nasie/land", (dus alle Suid-Afrikaners) en die Kerk.

Alhoewel ons land 'n sterk Christelike tradisie het en daar eweneens 'n sterk Christelike teenwoordigheid is, is die diagnose oor ons geestelike (en mag ek ook sê "morele") stand van ons nasie nie goed nie.

Terwyl vele ander lande 'n geringer Christelike teenwoordigheid as SA het, is feitlik elke denkbare sosiale euwel by ons in 'n oortreffende trap aanwesig - dink maar aan kwessies soos korrupsie, verslawing, moord, geweldsmisdaad, verkragting, ens. Dit is vir my een van die grootste verleenthede en aantygings teen die kerk, gegewe dat meer as drie-kwart Suid-Afrikaners 'n Christelike affiliasie bely.

'n Mens sou verwag dat 'n land (en kontinent) met so 'n sterk Christelike inslag en teenwoordigheid) meer "beskaafd" sal wees. Alhoewel ek graag "beskaafdheid" en "Christelikheid" in direkte verband met mekaar sou wou sien, blyk dit nie noodwendig die geval te wees nie. Dink bv. aan 'n land soos Japan wat 'n baie klein persentasie Christene het en tog hoogs-beskaafd is en waar sosiale euwels soos hier by ons kwalik voorkom.

Ek besef dat daar ook ander faktore tersprake is, maar die feit is egter dat ons land, met soveel natuurlike skoonheid en so ryk bedeeld met natuurlike rykdomme en mense-potensiaal, nie vertoon soos een waar die lig van die Evangelie helder deurgedring het en die "sout" van ons lewens en getuienis die gewenste uitwerking het nie.

Ek wil waak daarteen om nie deur die baie negatiewe aspekte in ons land meegevoer te word nie. Natuurlik is daar wonderlike mense en wonderlike inisiatiewe en geleenthede. Ek kan egter nie anders as om te voel dat ons land, ons nasie, in sy siel en wese ernstig siek is nie. Materialisme, korrupsie, immoraliteit, disfunksionele gesinne, noem maar op, het by weinig Suid-Afrikaners verbygegaan. Ja, Suid-Afrika is in vele opsigte 'n "siek" land.

Wanneer daar egter gevra word oor die geestelike toestand van ons nasie, is dit belangriker om by die Kerk uit te kom. Die Kerk is immers die liggaam van Christus, God se instrument, Sy gestuurde, om hierdie wêreld te seën en te beïnvloed met die boodskap van Sy Koninkryk, om "siek" mense en "siek" gemeenskappe aan te raak en te genees. Dit is al gesê dat donkerte slegs gedefinieer kan word as "die afwesigheid van lig". As dit dan "donker" is in ons samelewing, kan daar met reg vrae gevra word aan die kerk, aan ons as Christengelowiges - die lig van die wêreld.

Jesus se woorde aan Sy volgelinge was nog nooit meer relevant nie: "Julle is die sout van die aarde... Julle is die lig van die wêreld..." (Mt. 5:13+14). Is God se probleem met Suid-Afrika regtig die ongelowige, geestelik-dooie menigtes, of is dit die vele Christene wat nie 'n ware Jesus-gelykvormige, Heilige Gees-beheerde koninkrykslewe lei nie?

Wanneer ons praat van die "Kerk", moet ons natuurlik onthou dat 'n groot deel van diegene wat hulleself in 'n sensus as "Christene" sal identifiseer, nog nooit tot bekering gekom het nie en dus eintlik net in naam (nomineel) 'n Christen is. Sulke mense is nog geestelik "dood" (Kol. 2:13) en daar kan beswaarlik iets meer as dit oor hulle geestelike toestand gesê word. Sulke mense mag (soos totale ongelowige buitestanders en selfs godloënaars) goeie mense wees, beskaafd met selfs hoë morele waardes, maar om 'n goeie mens te wees, beteken nog nie jy is 'n kind van God nie.

Indien ongelowiges, asook ongeredde, nominele Christene se geestelike toestand eintlik net as "dood" beskryf kan word, skuif die fokus dus na diegene wat waarlik gelowiges, kinders van die Here is. Dit is dié mense waarvan Joh. 1:12 praat: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo." Dit is mense wat Jesus aanvaar het as hulle Verlosser en glo dat Hy alles reeds aan die kruis volbring het sodat ons hier vir Hom kan lewe en hierna vir altyd by Hom kan wees.

Hierdie "ware" Kerk van die Here is versprei deur en oor alle denominasies wat Jesus as die verrese Seun van God bely. En nie net in denominasies nie - een van die interessante fenomene van ons tyd is die talle onverbonde gemeentes (groot en klein) wat in groot getalle regoor ons land ontstaan. Hieronder tel ek ook die groot getal huisgemeentes.

Ek dink egter dis haas onmoontlik om 'n enkele geldende uitspraak oor die geestelike toestand van die kerk in die algemeen te maak. Ja, daar is sekerlik tendense wat kommerwekkend is. 'n Mens verwag byvoorbeeld dat ware kinders van die Here goeie en beskaafde mense met hoë morele waardes sal wees, maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie.

Die wêreldgesindheid waarteen Jak. 4:4 waarsku het beslis ook baie gelowiges se oorgawe en toewyding aan die Here geaffekteer. Paulus sê immers dat mense in die laaste dae "meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God" sal wees. (2 Tim. 3:4) Wêreldgesindheid was nog altyd 'n groter vyand van die kerk as vervolging. So onaangenaam en onwelkom as wat vervolging van die kerk nog altyd was, het dit as 'n reël 'n heilsame en heiligende effek tot gevolg gehad.

'n Tendens wat in die meer Westers-georiënteerde segment van die kerk voorkom, is dat die groei wat sommige gemeentes wel ervaar word grotendeels nie deur nuwe bekerings kom nie, maar wel uit die migrasie van lidmate. Die meeste groeiende gemeentes sal erken dat hulle groei nie soseer koninkryksgroei is nie, maar groei ten koste van ander gemeentes. Hierdie groei is gewoonlik gekoppel aan persoonlikhede, iets wat nie altyd op die langduur volhoubaar is nie.

In ons arm, agtergeblewe gemeenskappe, vind ons vrugbare grond vir die Evangelie. Groot getalle mense reageer op die uitnodigings van evangeliste. Daar is egter veral twee groot struikelblokke. Die een is die sterk houvas van die animisties-kulturele agtergrond waaruit hierdie mense kom. Heelwat van die groot onafhanklike kerke wat in hulle geledere ontstaan het, het ook 'n sterk sinkretistiese geloof en praktyk. Die geloof in die rol van die voorvadergeeste asook ander praktyke wat daarmee verband hou, is dikwels aanwesig.

'n Algemene tekortkoming wat hier, en eintlik ook in die breëre kerk voorkom, is ware dissipelskap. Soos dikwels die geval is tydens evangelisasie-veldtogte reg oor Afrika, kom mense oor en oor tot bekering, maar groei nie tot geestelike volwassenheid nie. Daarom is daar so 'n vatbaarheid vir vreemde en onbybelse leringe en praktyke.

Temidde van dit alles, moet ons egter nie die wonderlike tekens miskyk dat die lig van Sy Koninkryk telkens deurbreek nie. Voorbeelde is legio. Terwyl die vuur van God in die kerk in Suid-Afrika ver van geblus af is, het ons onteenseglik behoefte, nee, 'n nood daaraan, dat die wind van God se Gees soewerein en eg oor ons waai. Sy vlam moet warmer en hoër brand!

#indiemedia

Onlangse Artikels
Afdelings
No tags yet.

ONDERSTEUN MY UITGEWERS:

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA

SOSIALE MEDIA:

© 2015 by Isak Burger. All rights reserved.